News

BIRDING AT VERLORENVLEI (AFRIKAANS)

Posted on the 15th July 2012

(This article appeared in the Spring edition of 'The Kite', the newsletter of the Tygerberg Bird Club and is loaded with the permission of the Editor. - Ed).

Elandsbaai is ‘n rustige kusdorpie wat bekend is vir kreef en branderplankry. Vir voëlkykers is die aantrekking egter die uitgestrekte riviermonding met die geheimsinnige naam van Verlorenvlei. Die grootste gedeelte van die vleiland se oewer is op privaatgrond geleë, wat toegang tot uitkykpunte heelwat beperk. Die eienaar van die plaas Verlorenvlei, het onlangs ‘n privaat natuurreservaat (Voogdyskap/stewardship) gestig om ‘n gedeelte van die vlei, asook ‘n groot gedeelte van die aangrensende strandveld te beskerm. Die grond beslaan ongeveer 1400 hektaar en op die heuwel is daar ‘n grondpad wat oor die lengte van die reservaat strek.

‘n Wandelpad langs die rivier word tans beplan en sal toegang tot die oewer en rietbeddens verskaf van waar die watervoëls, waadvoëls en visarende besigtig kan word. Een van die plaaslike verrassings is die paar Reusereiers (Goliath Herons) wat soos pilare bo die eende uittoring.

Die strandveld teen die heuwels is die tuiste van ‘n groot verskeidenheid voëls wat meestal in droë streke gevind word. Dikbeklewerik, Karoolewerik, Kaapse Klappertjie (Clapper Lark) en Grysrugtinktinkie stel ‘n uitdaging aan diegene wat nie met die klein, bruin outjies vertroud is nie.

Die paar rotskoppies bied skuiling vir ‘n aantal dassies wat die prooi van die Witkruisarend- broeipaar vorm. Die SABAP2 (atlasprojek) dui tans aan dat die blokkie 3215_1820, wat van Elandsbaai tot die middel van die reservaat strek, ‘n voëllys van 179 spesies aangeteken het. Ek het die laaste naweek van Meimaand daar deurgebring en ‘n totaal van 88 spesies in die reservaat opgeteken. As ‘n mens in gedagte hou dat die somerbesoekers, soos waadvoëls, swaeltjies, byvreeters, en geelbekwoue reeds na die Noordelike Halfrond vertrek het, is die lys nie te versmaai nie. Navrae in verband met toegang kan aan Marieta Schoeman by telefoonnommer 022 9721341/0713025717 gerig word, of deur ‘n epos te stuur aan marieta.schoeman@gmail.com.

Oorkant die rivier is daar ‘n huise op die plaas Tuurfontein wat gerieflike selfsorg verblyf verskaf. Geriewe bestaan uit twee slaapkamers, (een met ‘n dubbelbed en die ander een met twee enkelbeddens) ‘n dubbel “sleeper” sofa in die sitkamer, ‘n volledig ingerigte kombuis en ‘n stort. Hierdie bekostigbare verblyf kan by Kobie of Fred van Zyl by telefoonnommer 022 972 1718 bespreek word.

Deona Andrag

 

COMMENTS

1008
No current posts. Be the first to post a comment