News

ANITA EN HUGO BY DE MOND NATUURRESERVAAT

Posted on the 6th October 2013

DAGUITSTAPPIE NA DE MOND : 1 OKTOBER 2013
Ons het so teen 8 uur uit Hermanus vertrek op 'n pragtige vroeg-somer oggend. Rustig gery en sommer gou-gou het ons sowat 20 spesies aangeteken. Blouvalkies, Fiskaal Laksman, Kransduiwe, Kaapse Tortelduif, Blou Reier, Tarentale, Kaapse Fisant, Witgatspreeu, Wilde Makou. Grootstreepswaels, Europese Spreeus, Rooivinke, Withalskraai, Swartkraai, Swartkopreier, Rooiborsjakkalsvoëls, Grootflaminke, Kaapse Flap, Witgatspreeus, Kaapse Mossies, Swartkopreier et al.

 

 

 

 

 

 

 

Soos gewoonlik het die bruggie by Nachtwacht vir baie opwinding gesorg.
'n Eensaam swemmende Groenkopeend (sies), Geelbekwou, Pêrelborsswaeltjies, Bont Houtkapper, Kaapse Wewers, Meitjie, Kaapse Tiptol, Geelbekeendjies, Gewone Janfrederik, Fiskaal Vliëevanger o.a. Net voor die afdraai na De Mond 'n swerm van ten miste 60 Bloukraanvoëls (party het tog te grasieus rondgedans). Ons het lank na hulle gekyk totdat hulle naderhand weggevlieg het.

Na die afdraai na De Mond is dit hoofsaaklik in landerye omgewing met 'n paar dammetjies hier en daar. Veereiers, Bokmakieries, baie Klein Bruin Bliksempies, Gevlekte Muisvoës, Jangroentjie, Hoëveldskaapwagters, Rooipootelsies, Bleshoenders, Hadedas, Skoorsteenveërs, 2 pragtige Veldpoue sommer naby die pad, en digby die Vogelgezang opstal sowaar 2 jong Witkruisvleivalke.

 

 

 

 

 

 

 

 


By De Mond aangekom het ons ons rugsakke gepak vir die lang tog al langs die strandmeer langs tot oorkant die verste duine. Ongelukkig werk hulle aan die brug so kon ons nie die ander roete volg nie. Nogtans was daar meer as genoeg voëllewe om ons goed besig te hou. Gewone Ruiters, Krombekstrandlopers, Ringnekstrandkiewiete, Kleinstrandlopers en nog ander water voëls wat ons nie kon identifiseer nie. Oorkant op 'n sandbank 'n reuse swerm Sterretjies maar te ver vir ons om te kon identifiseer. Vermoedelik maar Geelbeksterretjies. Ons kon darem twee pragtige Reusesterretjies van naderby beskou. Heelwat Swarttobies. In die verte waar die meer in die see uitloop 'n reuse swerm Trekduikers en teen die duin 'n klomp Witborsduikers op hulle neste (deur Natuurbewaring vir hulle opgerig). Ons wou oor die duin see te kant en so versteur ons toe ongelukkig die Trekduikers. Nietemin was dit baie mooi om die swart wolk te sien opstyg. Nie ver daarvandaan nie het hulle weer op 'n sandbank gaan tuismaak.

 

 

 

 

 

 

 



Twee ure later is ons terug by die piekniekplek. Lekker gepiekniek terwyl die visvangers voor ons angstig in die Heuningnesrivier vir kossies geduik, en die Witkeelswaels rondgeswiep het. Ons was taamlik moeg en te rustig om nog tussen die bome na ander spesies te soekl
Op ons pad terug kon ons nie naby die dam by die Bredasdorp Rioolwerke kom nie. Te veel plasse water. Op Napier het ons koffie gedrink en appeltert ge-eet. Die Rioolwerke daar kan blykbaar net per afspraak besoek word. So teen 5 uur die middag was ons weer tuis. Taamlik deur die son geklits en redelik uitgeput. Dit was 'n lang maar uiters insiggewende en genotvolle uitstappie. Eenparig het ons besluit dat ons baie trots op onsself kan wees om naastenby 50 spesies te kon identifiseer met o.a. miskien nog so 10 ander wat ons nie kon eien nie. My linker arm pyn en my spiere is styf van verkyker vashou, my brein is moeg, my gesig en oë rooi en my lyf tam maar dit was alles elke oomblik werd. Weereens net nog 'n baie verrykende voëlkyk ondervinding.
Anita

 

 

 

 

 

 

 

 

 

COMMENTS

1631
CARIN MALAN (posted: 2013-10-11 17:32:24)
Ek gaan volgende keer saam en miskien, net miskien kan ons daai Klein Bruin Bliksempies uitken. Geniet julle tyd in Kruger en kom terug met wonderlike stories !! LOL Carin