News

CONRAD EN WILMINE VAN HEERDEN IN NAMAKWALAND

Posted on the 3rd September 2013

NAMAKWALAND - Augustus 2013
Die weer het nie baie mooi saamgespeel nie, maar aan die ander kant moet ons onthou dat as dit nie gereeld reën nie, sal ons nie mooi blomme sien nie. Op pad deur die Swartland en op langs die Weskus die normale voëls gesien soos die Jakkalsvoëls en nogal baie Heilige Ibisse.
Nadat ons Maandag oggend net na 09:00 uit Gordonsbaai weg is was ons eerste stop by die Weskus Nasionale Park – ʼn moet vir elke mens wat hou daarvan om blomme te sien, dit was weereens ʼn prentjie. Dit nieteenstaande dat dit nog effens bewolk was en al die blomme nie heeltemal oop nie. Een van die grootste troppe elande wat ek in ʼn lang tyd gesien het was rustig aan die wei naby die pad, duidelik gewoond aan die toeriste en verkeer.
Al was dit nie ons idee om voëls te soek en te kyk nie het die gewone meeue en kormorante ons verwelkom by die piekniekplekke en was dit ook goed om ʼn paar Swart Tobies te sien wat aan die kos soek was tussen die swart mossels. Maandag aand het ons by Vensterklip, langs die Verlorenvlei by Elandsbaai geslaap. Ongelukkig was dit toe redelik koud met ʼn lastige wind en het ek dit moeite ontsien om na die vlei te gaan, al het hulle ʼn “bird hide” daar. Tog spyt dat ek nie maar vasgebyt het nie.
Dinsdag oggend ook maar in bewolkte toestande daar weg maar kon sien dat verder noord die son skyn en was ons vasberade om so gou as moontlik daar te kom. So in die haas ry ek verby Rocherpan met die gedagte dat ek ʼn afsonderlike poging sal aanwend om daar uit te kom. Die duisende en duisende pienk flaminke langs die pad in die soutpanne was ʼn mooi gesig, maar weereens sonder die helder son om dit nog mooier te maak.
Op pad na van Rhynsdorp begin die blomme al mooier en mooier raak en stop ons af en toe om te kyk na die prag – nog nie in massas nie, maar soveel van ʼn verskeidenheid dat dit mens se asem wegslaan. In die dorp self sien ons ʼn splinternuwe nut vir ʼn ou maar pragstuk van ʼn Austin bakkie.
Bo-op Van Rhynspas stop ons eers vir middagete en om ons te verkyk aand die pragtige uitsig. Nieuwoudtville is soos een groot tuin – ongelooflik om te dink dat nie een mens daarvoor verantwoordelik is nie. Kry geleentheid om die pragtige ou sandsteen kerk te besoek waar die tannies pannekoek bak vir 8 weke lank tydens die blomme seisoen en soveel geld maak uit toeriste in motors en busse dat dit nie nodig is om bazaar te hou nie. Ons maak ook tyd om uit te ry na die Oorlogskloof Gletser vloer waar die beweging van die ys 300 miljoen jaar gelede vandag nog sigbaar is in die rots op die oppervlak. Ook buite die dorp is dit ʼn fees vir die oog met blomme vir kilometers en kilometers aanmekaar.
Die volgende oggend uit Nieuwoudtville stop ons eers by die waterval wat in hierdie nat seisoen baie mooi is. ʼn entjie verder aan op pad na Loeriesfontein draai die bakkie eers af na die Kokerboomwoud om die pragstuk van oor die 8 000 bome in een relatiewe klein stukkie aarde te sien. So in die rit uit ʼn baie nat Nieuwoudtville uit verander die voëls ook van baie waterhoenders, dobbertjies, geelbekeende na die voëls meer geskik vir die droëer klimaat. Ons sien kaalwangvalke en by een geleentheid (ek is seker – ten minste 99%) ʼn witkruisarend. Ongelukkig kom hy weg voordat ek die telefoto lens op die kamera kon kry.
As jy ooit in Loeriesfontein kom maak tog seker dat jy tyd het om die windpomp museum te besoek. Dit het my gedagtes ver laat teruggaan waar ek as kind ook gereeld moes help met pype uittrek en algemene herstelwerk aan die windpompe. Goeie tye wat ons kinders ongelukkig nooit sal ken nie. Dan is die blomme in die dorp ook net so mooi, elke huis het hierdie tyd van die jaar ʼn pragtuin wat geen werk vereis nie.
Na Loeriesfontein is ons pad na Calvinia en ook hier is die blomme baie mooi. Tussen Calvinia en Nieuwoudtville draai ons af om deur die Botterkloof te ry. Hierdie is ʼn ongelooflike mooi stuk wêreld wat ek nooit eens van bewus was nie. Ongelukkig is ons teen hierdie tyd onder die wolke in en kon nie die blomme in al hulle glorie sien nie. Ten spyte hiervan was dit deur en deur die moeite werd aangesien mens jou kon voorstel hoe die veld sou lyk indien die son helder geskyn het. Op pad ook heelwat voëls gesien, moes stop om ʼn paar kwarteltjies oor die pad te laat hardloop, maar weereens was ek te stadig met die kamera. Al sien ek ook tien duisend rooivinke in een dag sal ek ook nooit moeg word vir hulle nie.
Ons was net van die grondpad af toe dit begin reën daar bo in die berg en het toe nie kans gesien vir die Biedouw vallei nie en aangesien die blomme in elk geval nie oop sou wees nie en vat toe maar die pad deur die Pakhuispas na Calvinia vir die laaste aand se slaap. Die rotsformasies bly vir my spesiaal en daarom dink ek dat ek bietjie later, miskien laat September gaan probeer om ten minste Botterkloof, Biedouwvallei en Pakhuispas in die sonlig te sien.

(Ons sal oor die naweek Conrad se foto's laai. - Red.)

COMMENTS

1608
No current posts. Be the first to post a comment