News

CHASING PELICANS ON MALGAS ISLAND (AFRIKAANS)

Posted on the 18th February 2013

Op wag op Malgas

MC Botha

Die sesde jaarlikse veldtog deur vrywilligers om pelikane van Jutten- en Malgaseiland naby Saldanha te verdryf, het pas tot ’n einde gekom.

Altesaam 35 vrywilligers (enkeles van so ver as Ierland en Noorweë) het in vyf dae aflosperiodes oor ’n periode van meer as tien weke lank gehelp om roof-witpelikane van die eilande te verwilder. Hierdie groot voëls leef van vis, maar het die gewoonte aangeleer om op kuikens te aas na aanleiding van Weskus-varkboere wat hul diere dooie hoenders voer. Dié praktyk is in 2005 gestaak, waarop pelikane hulle gewend het tot die kuikens van trekduikers en die veel skaarser bank- en kuifkopduikers, asook malgasse en swartrugmeeue wat in die somermaande broei.

Nadat pelikane in die 2007/08-broeiseisoen tienduisende kuikens verslind en sommige spesies se nageslag daardie jaar totaal uitgewis het, het Sanparke en erewildbewaarders van die Weskus koppe bymekaargesit en die Pelican Watch Programme opgestel.

Daar word van vrywilligers verwag om daagliks van sonop tot sononder reg te staan om pelikane wat ingesweef kom van die vasteland of Dasseneiland waar húlle broei in te wag en te verwilder sodra hulle op die eilande land.

Hierdie seisoen het ek my diens op Malgas verrig, nadat ek twee jaar tevore op Jutten was. Daar is sowat 20 000 witmalgas-broeipare op Malgas – die naasgrootste van ses broeikolonies van dié bedreigde spesie, terwyl swartrugmeeue en trek-, kuifkop- en bankduikers ook op die eiland broei. Volgens ’n wetenskaplike tegnikus van die departement omgewingsake, Rob Dyer, wat ’n paar dae lank saam met ons op die eiland was, het die bankduikers van 120 broeipare ’n paar jaar gelede tot slegs vyf vandag afgeneem. Ongelukkig is hul neste boonop aan die oostekant van die eiland geleë – die rigting waaruit pelikane gewoonlik opdaag en die kuikens dus blootgestel word as die eerste potensiële bron van slagting.

Malgas se 8 ha is sowat ’n vyfde die grootte van Jutten, maar dit maak die wegjaag van die roofvoëls nie makliker nie. Die verraderlike rotse teenaan die see is hoër as Jutten s’n en dus veel gevaarliker om al hardlopend agter pelikane aan aan te durf.

In die vyf dae wat ons daar was, het ons altesaam 235 pelikane verjaag. In vergelyking met Jutten twee jaar vroeër was daar veel minder suksesvolle gevalle van predasie.

Is die program suksesvol? Dalk nie 100% nie, maar volgens die besluitnemers is dit veel beter as om niks te doen nie en die pelikane maar net hul gang te laat gaan, ’n gang wat hulle immers indirek aan die mens te danke het. En net hý kan hulle dit help afleer.

(MC Botha is ’n skrywer en natuurlewefotograaf.)

 Malgaseiland in eerste lig, na die noordweste geneem.

 

Navorsers besig om die groei van kuikens te monitor. Malgasouers is verbasend verdraagsaam teenoor mense en aanvaar altyd ná versteurings soos dié hul kuikens terug in die nes.

 

 

 

 

 

 

Een van slegs twee Australiese malgasse (links) op die eiland van 40 000 witmalgasse. Dié spesie het ’n kleiner keelstreep en donkerder oranje kop as die witmalgas, asook wit stertvere, in teenstelling met die witmalgas se swartes.

 

 

 

 

 

'n Indiese oorlogskip vaar verby die kolonie tydens ’n oefening met die SA Vloot.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Kuikendief - ’n swartrugmeeu met ’n malgaskuiken wat van ’n nes weggeraap is.

 

 

 

 

’n Witborskraai op die eiland met ’n kransduifeier wat hy gesteel het. Kransduiwe broei in murasies en ou guanoskure op die eiland.

 

 

 

 

 

 

Malgasse is sterk vlieërs en gaan soek dikwels kos 50 km of verder weg van die eiland.

 

 

 

 

Arktiese sterretjies op die eilandkaai.

 

 

 

 

 

 

 

Pelikane (agter) kom op hul strooptog aan.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

COMMENTS

1484
MARNA CILLIERS (posted: 2013-02-19)
Dear MC
Congrats with the article in Die Burger yesterday! I have to say it was a wonderful experience to share that shift with you!
Attached please find a copy of an article that I compiled with a photograph of you doing the "Toilet duty" - on the watch! This is for the next issue of Toyota Zone in March/April 2013.
Thanks again to everyone who contributed to make this an unforgettable experience and providing us with the opportunity to contribute!
Best regards
Marna Cilliers
COLIN CODNER (posted: 2013-02-18)
Very nice pen picture, MC and great digital ones too. The publicity will be a big help with the recruiting drive. Minor nit picks: 37 volunteers on Malgas and 70 all up on the program this year, and the Malgas program ran for 12 weeks
ALEC CELLIERS (posted: 2013-02-18)
Well done MC - great article and as always, great photos. Was the researcher not Bruce Dyer?