News

TYGERBERG BIRD CLUB AT DE UIJLENES NEAR GANSBAAI (AFRIKAANS)

Posted on the 14th July 2012

(This article appeared in the Spring edition of 'The Kite', the newsletter of the Tygerberg Bird Club and is loaded with the permission of the Editor. - Ed).

Naweek 27 tot 30 April 2012 by De Uijlenes naby Gansbaai

Ons vier Vryheidsdag met ‘n uittog van 16 entoesiastiese voëlkykers na die unieke De Uijlenes om ons gevleuelde vriende van die hemelruim te gaan opsoek. Ek en Libeth, pas aangesluit by die Klub, is die “eager beavers” wat heel eerste by Dassiesfontein se Padstal aankom. Ons versterk die koue binneste met koffie naby die vuur wat in ‘n ou kruiwa gestook word. By hierdie unieke padstal verstom jy jou oor wat alles hier te koop aangebied word – van varsgebakte brood uit ‘n Doverstoof tot mandjies en kristalkandelare wat aan die plafon hang tot alles denkbaar van emalje en boonop rye nuwe Doverstowe wat gretig wag vir ‘n nuwe baas op ‘n plaas!

Ons maak kennis met almal, ry in konvooi op die R316, neem die R326 na Stanford en hou kort –kort stil om met verkykers die wonderwêreld van die natuur te ontdek. Brian is ongelooflik met sy “klein ogies ver kyk!” Hy is nie verniet ‘n gids vir voëlkykers nie!

Vir ons dom nuwelinge is hy en Gerald net ongelooflik soos hulle voëls in vlug kan identifiseer, en Brian sien nog sowaar 4 bakoor jakkalsies doer ver in ‘n groen lusernland raak! Langs die pad kry ons ‘n dooie Gevlekte Ooruil. Wat ‘n tragedie dat so ‘n pragtige uil sy lewe verloor het. Ons verwonder ons aan die pragtige fyn vere op sy lyf. Ons kom uiteindelik op De Uijlenes aan. Op die plaaswerf is ‘n klomp ganse, hoenders, kalkoene, skaapooie met klein lammetjies wat ons begroet en beraas!

Reeds in 1826 is die eerste weiregte op hierdie plaas aan Hermanus Swart toegeken. Die plaas is reeds in die besit van die Groenewaldfamilie van 1856 af. Ons hou stil onder ‘n groot Alambra boom, en begin afpak. Die huis met die “Mega” kombuis en groot leefarea word betrek deur Brian en Ione, Gerald en Anton , Noel en Jenny, Linda en Lynn, en klein Marlenetjie. Die groot yskas en vrieskas word volgelaai. Ek het lanklaas ‘n yskas gesien wat nooit gedurende ‘n naweek leeg kon raak nie!

Ons word verras met twee lekker tuisgebakte brode op die toonbank, nog lekker warm, smullekker met botter! Ons ander meisies betrek die ou plaashuis met ‘n dek wat uitgebou is oor die dam met sy “Foefie Slide”. Die ou huis is in 1863 gebou met Kaiingklip, aangery met ossewaens. Linda (de Kock), Marie, Jane, ek en Libeth, Annette en Beverley maak ons tuis in die heerlike ruim kamers. Hierdie ou gebou is onlangs deur die Groenewalds gerestoureer, en kan tot 16 mense huisves as die matrasse op die solder bygereken word.

Na middagete stap ons op die plaas deur geploegde lande, waar baie wilde daggaplante op die kante staan. Daar ontdek ek toe dat ons bekende Jangroentjie die indrukwekkende Engelse naam Malachite Sunbird het! Ek en Libeth sukkel nog met die Engelse name van die voëls, maar leer geweldig vinnig! Ons stap deur ‘n wonderwêreld van ‘n inheemse bos, waar soms kerkdienste en troues gehou word. Ons hoor die witborsduifie (Tamborine Dove), maar kan hom glad nie sien nie. Aandete wink en die braaivleisvuur moet aangesteek word.

Saterdag het ons die voorreg om Danger Point te besoek. Die Birkenhead Rock waarop die HMS Birkenhead in 1852 gestrand het kan met laagwater ongeveer 1 km van die punt af gesien word. Van die 476 mense aan boord het 184 oorleef. (Op ‘n ligter noot : Een van ons het ‘n blonde oomblik gehad toe sy Die Birken se “head” in die lug gesoek het. Sy het gedink die Birkenhead is ‘n voël!) Met spesiale verlof kan ons Henk se wêreld betree. Hy bewaak en bestuur I & J se perlemoenkwekery met arendsoë. Ons gaan deur ‘n streng kontrole van handewas en skoensole –deur-die-vlak-water-stap om organismes van buite te beheer. Aan die seekant is dit ‘n gewoel van baie seevoëls - sterretjies (terns) duikers, seemeeue. Nooit het ek geweet daar is so baie verskillende sterretjies en duikers nie! Die oulikste vir my is egter die “Ternstones” (Sic). Baie in my skik dat ek darem een sterretjie se naam ken, verkyk ek my aan hierdie oulike voëltjies, baie bedrywig in hulle gekamofleerde lyfies met die aardse kleure van ‘n wildehond! Weer tyd vir ‘n blonde oomblik! Die naam is ‘n Turnstone, toe glad nie ‘n sterretjie nie, maar ‘n waadvoël, wat sy kos onder die klippe soek en kry! (Afr. Steenloper). Hulle word toe sommer vir my die wildehondjies van die see!

Ons ry verder met die kus langs by Kleinbaai verby. Die kus is bedrywig. Hier word mense see-in geneem, in staalhokke in die see afgesak om haaie in hulle natuurlike staat te kyk. By Franskraal maak ons kennis met Oom Jan Fourie en sy oulike klein museumpie in die historiese huisie waar werkers met die versameling van guano van Dyer-eiland altyd kom oorslaap het. Hy vermaak ons met sy stories en jolige konsertinamusiek. Hier word unieke artefakte van die Birkenhead gehuisves. Marie is vanaand lus vir pannekoek! Ons koop bestanddele en gaan meng ‘n beslag sonder ‘n klitser. Almal help om die klonte uit te werk en later smul ons almal aan ‘n pannekoek as ‘n voorgereg, voordat al die variasies van braaivleis uit die yskas gehaal word!

Sondag is ons oppad na Baardskeerdersbos. ‘n Paar van ons in Brian se bussie wonder waar die Bos dan sal wees, maar daar wag ‘n verrassing vir hulle. Oppad kry ons toe die statige veldpou (Denham’s Bustard) wat ons spesiaal gesoek het. Ook word ons verras met twee Visarende, wilde Makoue en Bloukraanvoëls. Baardskeerdersbos is toe ‘n klein dorpie, met uitgestrekte strate en baie kunstenaars wat daar bly! Hier is vandag ‘n kunstenaarsfees, en baie huise is oop met eienaars se kunswerke te sien.

Nog ‘ besondere voël wat ons gesien het , is die Knysna Houtkapper, ywerig besig om ‘n nes in die droë boomstamp te maak. Die swart riethaantjie wat ons op ‘n groot afstand gesien het, was so ontwykend soos kan kom, en het besluit om ons baie te frustreer! Hy kon dalk nek omgedraai geword het, as van ons by hom kon uitkom!

Namiddag ry ons deur wonderlike fynbosveld met baie suikervoëls in die proteabosse, en by Pearly Beach word ons verras met ‘n bont visvanger (Pied Kingfisher) tussen die rotse, so goed gekamofleer dat ek nou nog wonder hoe hy raakgesien is! Hy vergas ons met sy toertjies in die lug, hang bietjie bo en duik dan af met ‘n spoed op sy prooi. In die tussentyd hang daar ‘n swart wolk van duikers dieper in die see op die horison. Daar was letterlik duisende van die voëls bymekaar, besig om te aas.

Marie is vanaand lus vir snoek op die kole braai! Soos ons haar leer ken het, is sy nie ‘n meisie wat iets opgee as sy haar kop daarop gesit het nie! Brian kry die gevriesde snoek, ons gooi ons geld saam, en daar gaan ons terug kamp toe. Nou kort ons nog patats! Ons ry by die plaashuis verby waar patats adverteer word, baie na aan ons afdraaipad na De Uijlenes. Libeth stap rond op die werf van die verlate plaashuis waar die eienaar duidelik weg is vir die naweek, en sowaar, daar lê die hele agterstoep vol sakkies patats! Liebeth neem een sakkie om soos more te betaal. Terug by die kamp, hoor ons dat Noel se Jenny met die Foefie-slide in die dam geland het! So jammer ons het dit nie aanskou nie!

Die aand verander in ‘n snoekfees, met heerlike patats daarby. Teen vanaand het die yskas geslaag om te begin leeg word! Ons kuier lekker saam om die vuur en hou ‘n finale voëltelling vir die hele naweek. Aan die einde van ‘n wonderlike naweek, het ons 110 verskillende voëls gesien!

Net voor die naweek eindig, nog ‘n blonde oomblik! Kan jy glo dat van ons meisies in die ou plaashuis nooit gesien het dat daar ‘n badkamer en toilet binne in die opstal is nie? Hulle het gereeld in die koue buitentoe beweeg na die buitegeriewe, maar nooit na die anderkant toe gedraai nie. Kan jy dit oorvertel?

Maandagoggend moes ek en Libeth ongelukkig vroeg vertrek. Ons groet al die nuwe voëlvriende, maar draai eers by die plaashuis is om ons skuld vir die patats te gaan betaal. Baie dankie, Gerald , Brian en Ione vir julle fantastiese organisasie. Ons het nog so baie om te leer! Vir oulaas koggel die kalkoene en kwaak die eende by die hek om vir ons totsiens te sê.

Elna Engelbrecht

 


COMMENTS

1005
No current posts. Be the first to post a comment