News

"KANNIBALE OP 'N WESKUSEILAND" DEUR MC BOTHA

Posted on the 27th February 2011

(This report first appeared in "Die Burger" in February 2011.  Printed with the permission of the author. - Ed.)

Kannibale op ’n Weskuseiland

MC Botha

Die lewe van ’n voëlkuiken op Jutteneiland by die ingang na Saldanhabaai hang aan ’n draadjie, ’n baie dun draadjie.

Dít het ek, Wina Loubser, Jan Pieters en Ferdie Endemann gou agtergekom toe ons onlangs vyf dae lank witpelikane van die eiland af verdryf het. Die pelikane skroom nie om op die derduisende neste van trekduikers en swartrugmeeue toe te sak en al wat kuiken of eier is stelselmatig op te pik en kop omhoog in te sluk nie. Selfs voëls wat al volgroeid is, maar nog nie kan wegvlieg nie, word nie versmaai nie - dis ’n bra grillerige gesig om te sien hoe so ’n voël spartel in die groot sak onder die pelikaan se bek en eers effens pap gedruk word voordat hy heel ingesluk word.

Pelikane het volgens bestaande lektuur nog altyd in klein mate kuikens en eiers geplunder, maar aan die Weskus het hulle geleer om van dooie hoenderkuikens te lewe wat varkboere aan hul diere voer. Dié maklike manier van kos in die hande kry, het die pelikaanbevolking (hulle broei op Dasseneiland) van minder as ’n duisend tot sowat 2 800 in 2007 laat opskiet. Toe varkboere egter hul hoendervoerdery staak, het die pelikane hulle tot die sewestuks guano-eilande aan die Weskus gewend en in een seisoen die ganse kuikenaanwas van trekduikers, meeue, geelbeksterretjies en malgasse uitgewis. Malgasse word boonop as ’n bedreigde spesie beskou.

SANParke het met behulp van die Weskus Erewildbewaarders ingegryp en die Pelican Watch Programme op Jutten- en Malgaseiland opgestel – hierdie eilande vorm saam met die aangrensende Langebaanmeer die Weskus Nasionale Park. Vanjaar is die vierde seisoen dat die program in werking is. Spanne van drie of vier vrywilligers onder leiding van ’n SANParkebeampte word elke vyfde dag op die eilande afgewissel gedurende die volle duur van die broeiseisoen.

Dit is geen maklike taak om die groot voëls te verjaag nie. Jy moet waghou van ligdag tot sononder – hierdie tyd van die jaar ’n periode van 15 uur – en dikwels oor rotse klouter wat seepglad is. Boonop moet jy so onopvallend moontlik beweeg, sodat jy nie neste van die trekduikers en meeue versteur nie.

Die neste van ’n tipiese trekduikerkolonie is so na as 20 cm van mekaar, en die voëls raak soms paniekerig en steek mekaar maklik aan sodra gevaar dreig, met die gevolg dat hele groepe hul neste toetental verlaat. Só word kuikens en eiers nie net aan die gevreesde pelikane blootgestel nie, maar ook die meeue wat as uiterste opportuniste soos valke neerskiet om ’n eier of kuiken te steel. Meeue is trouens kannibale en sal ewe goed ’n kuiken of eier van ’n versteurde nes van hul eie spesie roof.

Anders as die trekduikers wat tussen rotse of klippe en in skeure nesmaak, verkies meeue om op die paar oop vlaktes van die 46-ha eiland nes te skrop. Hulle verdedig dié kolonies met rasende aggressie en val jou dikwels laag van agter aan met ’n gepaardgaande skyt wat teen jou kop of nek klap terwyl hulle tegelykertyd bloedstollende angsgille uitskreeu.

Hier teen die tweede dag maak jy jouself nie meer moeg deur die slierte wit en bruin gemors van jou klere te probeer afkry nie.

Ons is almal toegerus met tweerigtingradio’s sodat ons met mekaar in verbinding kan bly op dié plekke op die eiland wat nie vanaf die uitkykpos op die eiland se hoogste heuweltjie sigbaar is nie. Die wag daarbo het ’n 360°-uitsig oor die baai en kan maklik sien van waar die volgende swerm plunderaars aangesweef kom.

Die pelikane is stadig maar seker besig om die boodskap te kry dat hulle nie welkom is nie, want sodra hulle ’n mens in die omgewing van hul beoogde landinsplek gewaar, draai die swerm gewoonlik om en sweef terug Langebaanstrandmeer toe. Soos by probleem bobbejaantroppe is daar egter altyd een of twee individue wat brawer en uitdagender is en jou vernuf en geduld tot die uiterste beproef om uiteindelik suksesvol verwilder te word.

Slaapplek vir vrywilligers op die eiland is in een van die vervalle geboue wat 80 jaar gelede deur guanoversamelaars opgerig is. Daar is geen toilet of lopende water nie – drinkwater moet saam met jou vir die duur van die verblyf per boot afgelaai word. Matrasse is daar wel, maar vir die res moet jy vir jouself sorg, insluitend kos.

Ná vyf dae het ons almal gevoel die “ontbering” was niks vergeleke met die kans wat ons gehad het om ’n bydrae, hoe gering ook al, te maak om ’n mensgemaakte steurnis in die natuur weer ongedaan te probeer maak nie.

• Navrae: Pierre Nel, SANParkebeampte in bevel van die program - 082 470 4982; Alec Celliers, erebewaarder – 082 347 4345.

COMMENTS

1386
No current posts. Be the first to post a comment