News

MATA-MATA WYS HAAR VERE

Posted on the 1st April 2021

(This article by club member MC Botha was first published in BY, the supplement to BEELD and BURGER on Saturday 27 March 2021 – Ed.)

Die buitengewoon goeie reëns in die Kalahari het MC Botha gelok om die Kgalagadi Oorgrenspark te besoek.

Laas was ek en my vriend Schalk le Roux van Oudtshoorn in 2008 hier. Toe was die wêreld droog, uitgedor: rooi duine het in lugspieëlings gedans en vaalgeel gras het in hittegolwe gebeef terwyl springbokke, blouwildebeeste en gemsbokke mistroostig in die skadu’s van kameeldorings geskuil het.
Nou is dit ’n heel ander storie. Die groen lote van suurgras en Boesmansgras skiet op tot heuphoogte, en korter grassies en struikies tooi die eens pastelkleurige landskap in skakerings van groen, saffraan en skarlaken. Derduisende skoenlappers dartel oral in die veld en oor die pad, voëls van alle soorte vlieg rond en kan skaars byhou om hul kleintjies te voer.

Die woestyn is inderdaad omgetower in ’n bosveldparadys.

Ons kamp onder andere vier nagte langs die Auobrivierbedding by Mata-Mata, op die grens met Namibië aan die verre weste van die park. Die natuur se oorvloed is nêrens meer sigbaar nie as net hier binne die omheinde grens van die klein kampeerterreintjie.

Sommer met die intrapslag hoor ons van uile wat in ’n hoë kameeldoring ’n nes het. Ná ’n bietjie verkenning vind ons dié boom voor ’n rytjie huisies bokant die kampplek.

Eers sien ons twee jong witkol-uiltjies langs mekaar sit, hoog in die takke en vas aan die slaap. By nadere ondersoek vind ons nog drie. Nie aldag dat jy vyf baba-uiltjies lewend uit een broeisel sien nie!

Boom vol witwanguile

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

’n Ander uilspesie is minder gelukkig. Een vroegmiddag in die skroeiende hitte bars ’n helse gekwetter en gekras van voëls in ’n boom skuins bo die tent uit. Rooiborslaksmanne, mossies en mikstertbyvangers duik knaend af op iets wat êrens agter ’n blaredak skuil. Kan dit ’n slang wees wat hulle so ontstig? Skielik kies die swerm hoogs ontstelde geveertes koers na ’n boom nog nader aan ons.


Hulle jaag al die tyd ’n witkoluil, daardie piepklein uiltjie wat bekend is om sy eentonige peupeupeupeeeu wat snags so kenmerkend van die Afrika savanna-bosveld is. Die uiltjie vlug vir sy lewe en gaan kruip met ’n desperate rats swiep weg in ’n gat van ’n boomstam net bo die grond.

Volstruisies met hul pa in die pad net buite Mata-Mata

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die volgende aand toe die son sak is ’n ander voëltjie minder gelukkig. Terwyl ek met ons buurman by die grensdraad voor ons staan en gesels, vlieg ’n tortelduif hom des moers teen die draad. Hy beland op sy rug in die stof, ’n meter of twee van grondeekhorings se skuilgat.


Ek sê nog vir die buurman ek sal bietjie suikerwater gaan haal om die duif by te bring – iets wat my ouma altyd gedoen het as ’n voël homself disnis vlieg teen ’n huisvenster. Nee wag, sê die buurman toe ’n grondeekhoring opeens nader sluip.

Dié trek die duif versigtig aan sy bek nader, en die oomblik toe hy besef die voël is dood, gryp hy een van die voël se rooi pootjies in sy eie voorpootjies vas en vreet die poot heeltemal op. Daarna die ander poot, toe takel hy die borskas, die vlerke. Binne die bestek van ’n kwartier is die duif opgevreet dat net sy kop en ’n hoop vere agterbly.

Wie sou kon raai dat hierdie oulike grondeekhorings (ook waaierstertmeerkatte genoem) wat gewoonlik knolle en uintjies uitgrawe, ook karnivore is?

Karnivoor van formaat – ‘n grondeekkoring besig om ‘n tortelduif van die pootjies tot die kop op te vreet 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Aan die oostelike uithoek van die kampterrein is ’n voëlskuiling langs die skelet van ’n ou kameeldoring. En dis op een van die takke van dié dooie boom waar ’n jong Afrikaanse Koekoek smôrens ligdag kom sit, sy vlerkies tril en met ’n oop bekkie wat binnekant helderoranje is, skree vir kos.

Sy pleegouers is twee mikstertbyevangers wat omtrent besig gehou word om hul aangenome kleintjie wat meer as twee keer groter as hulle is se honger te stil. Anders as haar niggie die Piet-my-vrou wat talle voëlsoorte parasiteer, lê die Afrikaanse koekoekwyfie haar eiers uitsluitlik in die nes van mikstertbyevangers.

Eintlik ironies dat mikstertbyevangers – van die kordaatste en aanvallendste kleiner voëls – só uitoorlê kan word. Sodra die koekoekeier boonop uitbroei, skop die pas geborene die ander eiertjies uit die nes en verseker derhalwe dat net hý grootgemaak sal word.
Die pleegouers hier in Mata-Mata beskerm hul ongevraagde kind met mag en mening. Selfs veel groter valke en woue wat dit durf waag naby hul spruit word verbete verpes totdat hulle noodgedwonge wegswenk na rustiger weivelde.

Eendag het die werklike ouers van die koekoekie opgedaag en begin roep – dit klink nes die roep van ’n hoep-hoep. En daar sak die twee byevreters op “húl” baba se ouers toe en jaag hulle met alle geweld weg die wildernis in.

Die voëlwêreld is maar net so eienaardig as die mens s’n. 

Mikstertbyevanger voer sy veel groter pleegkind

 

 

 

 

 

 

 

COMMENTS

2591
No current posts. Be the first to post a comment