News

A BIRDING HIKE AT MATROOSBERG (AFRIKAANS)

Posted on the 31st August 2016

(And most people believe that Matroosberg is all about snow in winter. Thanks to Wessel Uys for forwading this report. - Ed.)

Matroosberg piek-stap
Teen 9Hoo begin ons die voetslaanroete na Matroosbergpiek, 2249m bo seespieël. Die rivier se dreuning langs die loodregte kranse op jou linkerkant voorspel dat jy nie te veel water hoef saam te dra nie. Die eerste 2,2km is ‘n tweespoor paadjie en dan volg ‘n goeie voetslaanpad vir nog 3.3 km. Behalwe die pragtige groot bosse, Protea magnifica, sien ons Suikervoëls (Cape Sugarbird) en Oranjebors suikerbekkies (Orange-breasted Sunbird). Met die enkelspoor paadjie, wat die kraglyne volg, sien ek n Grasvoël, (Cape Grassbird), besig om homself aan die ander kant van die waterstroom te geniet. Die volgende voëls wat ons opmerk is Grondspegte,(Ground Woodpecker), Kranswaels (Rock Martins), Kaapse kanaries (Cape Canaries) en Rooivlerkstreepkoppies (Cape Buntings). Verby die skihutte en ‘n laaste steil stap is ons 12h30 by die parkeersarea bo-op die berg. Die roete loop geleidelik opwaarts, maar is ‘n baie lekker paadjie, al in die klofie langs, onder die 4x4 roete. Na 5.5 km en 3.5 ure bereik ons die parkeerplek, aan die einde van die 4x4 roete. Hier is die mooiste , diep kranse waarop jy afkyk en dan besef jy hoe nietig ons eintlik is.
Hiervandaan is dit nog ‘n uur se stap tot bo-op die piek. Hier is egter geen water langs die roete nie. Genoeg Kransvalkies (Rock Kestrels) en ‘n Rooiborsjakkalsvoël (Jackal Buzzard) wat die wind gebruik om te sweef, is van die voëls wat ons opmerk . Die volgende hoogtepunt is die Kaapse berglyster (Cape Rock-jumper). Amper bo en ‘n koddige plomp konyn spring langs my uit tussen die rotse en verdwyn agter my, voor ek ‘n foto kan neem. Dit was die ”Smith’s red rock rabbit ”, blykbaar ‘n gesogte prooi vir die Kaapse ooruil (Cape Eagle-Owl). Die pagtige wyd platgroeiende Protea effusa is baie volop langs die roete. In die sterk wind wat ons bo-op die piek ervaar, staan ons trots by die baken!
Na 30 min se verwondering oor al die Bolandse berge en die uitsig oor die Hexriviervallei, stap ons die 8 km padlangs op die 4x4 terug wat ons 3ure 30 min lank neem. Behalwe ’ n paar Berglysters, sien ons ook die Langtoonkliplyster, (Sentinel Rock-Thrush). Op hierdie roete sien ons twee soorte skaamrosies, nl. Protea witzenbergiana, wat baie volop is en ook ‘n paar bosse Protea pendula. Die vaalblaar, platgroeiende Protea econdita of “hidden sugarbush” wat deur muise bestuif word en ‘n pragtige versteekte maroen blom dra, is die volopste.
Om die 4 spesies van voëls, nl Grasvoël, Grondspeg, Kaapse kliplyster en Langtoonkliplyster op een dag te sien was nog nie baie voëlkykers beskore nie, wat nog te sê van die uitsig oor die Bolandse berge vanaf Matroosbergpiek en al die verskillende soorte proteas.
Wessel en Martienet Uys
0798914364

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Cape Rock-jumper
Cape Sugarbird

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Ground Woodpecker

 

Cape Grassbird

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

(Images by Anton)

COMMENTS

2266
No current posts. Be the first to post a comment