News

TYGERBERG BIRD CLUB AT HELDERBERG NR

Posted on the 5th October 2012

(This article originally appeared in the summer edition of Kite, the e-newsletter of the Tygerberg Bird Club and is published with the permission of Lesley Teare, the editor. - Ed.)

WOENSDAG, 05 SEPTEMBER 2012

HELDERBERG NATUURRESERVAAT, SOMERSET WEST

(Mariana Delport)

Die September week-dag uitstappie is op 'n heerlike, sonnige lentedag in die Helderberg Natuurreservaat gehou. Douw Steyn, Jack de Swardt, Philip Fry, Doreen Summer en Philip Fry was eerste daar en het solank die dammetjie gaan verken. Daar word herstelwerk rondom die dam gedoen, wat waarskynlik die oorsaak was dat daar nie veel te siene was nie. Die teenwoordigheid van ’n Swarteend (African Black Duck) en Kuifkopvisvangertjie (Malachite Kingfisher) het egter hiervoor opgemaak. Terwyl die res van ons, wat saam met Brian se Tankwa Taxi daar aangekom het, nog besig was om ons verkykers uit te kry, kyk en luister ons na wat in die bome rondom ons aangaan. Felis Ungerer, 'n besoeker en nuwe voëlkyker wat baie gretig is om by ons aan te sluit, is uit haar vel van opgewondenheid elke keer as ons iets sien. Haar entoesiasme blaas sommer nuwe energie in ons klomp ou voëlkykers. Ons sien en hoor ’n Kaapse Bosbontrokkie (Cape Batis), Oranjeborssuikerbekkie (Orange-breasted Sunbird), Fiskaalvlieëvanger (Fiscal Flycatcher), Kaapse Glasogies (Cape White-eye), Olyflyster (Olive Thrush) en Streepkopkanarie (Streaky-headed Seedeater) in die parkeer area.

Ons begin stap anti-kloksgewys, verby die klein vleilandjie waarvan die riete redelik kort is. Dit is verbasend stil hier en ons stap aan, op teen die helling na die staning proteas. Selfs hier is nie die te wagte Kaapse Suikervoëls (Cape Sugarbird) nie, maar 'n Janfrederik (Cape Robin-Chat) sit mooi vir ons en kyk terwyl hy sy pragtige deuntjie fluit. Ons verkyk ons aan die blomme wat na die groot brand van ’n jaar of twee gelede kleur verleen aan ’n landskap wat 'n tydjie gelede net swartgebrande stokke was. ’n Afrikaanse Sperwer (African Goshawk) vlieg hoog oor ons koppe met sy kenmerkende klik-klik roep wat hom verraai het. Uiteindelik kry ons die Kaapse Suikervoëls (Cape Sugarbirds), Oranjeborssuikerbekkies (Orange-breasted Sunbirds), Kleinrooiborssuikerbekkies (Southern Double-collared Sunbirds), Jangroentjies (Malachite Sunbirds), ’n Bandkeelkleinjantjie (Bar-throated Apalis), Kaapse Flap (Yellow Bishop) en Mikstertbyevanger (Fork-tailed Drongo). Felis se opgewondenheid is aansteeklik as sy al hierdie kleurvolle voëls sien. Party van ons het moeite om nie heeltemal deur die lenteblomme verlei te word om foto’s te neem nie. Ons kyk darem soms op en sien ’n Kleinwindswael (Little Swift), Witkeelswael (White-throated Swallow) en 'n Pêrelborsswael (Pearl-breasted Swallow).

Die Helderberg Natuurreservaat is bekend vir die goeie aantal roofvoëls wat daar gesien kan word. Ons kry ons deel toe ’n tweede Afrikaanse Sperwer (African Goshawk) oorgevlieg kom met ’n Rooiborssperwer (Rufous- Chested Sparrowhawk) kort op sy speekwoordelike hakke. Die verskil in grootte tussen die twee roofvoëls was opsigtelik. Kort hierna sien ons ’n Rooiborsjakkalsvoël (Jackal Buzzard) en nie lank daarna nie, ’n ligte vorm Dwergarend (Booted Eagle). Die voetpaadjie af na die dam is sopnat en modderrig en ons vat kortpad deur die onderste deel van die reservaat. Jack sê dat hy dink hy het ’n Gevlekte Vleikuiken (Buff-Spotted Flufftail) gehoor toe ons vroeër by die klein vleiland verbygeloop het. Ons gaan maak weer daar ’n draai, maar ten spyte van Brian se perfekte namaak van die vleikuiken se roep is daar geen reaksie nie.

Dit is tyd vir 'n welverdiende koppie tee en toebroodjies. Die voëllys is nie uitsonderlik indrukwekkend nie, met slegs 40 voëlspesies wat ons gesien het, maar die ervaring van ’n groepie mense met ’n gedeelte passie vir voëls en die natuur het dit oor-en-oor die moeite werd gemaak. Soos iemand tereg gesê het: Dit was die lekkerste uitstappie wat sy in 'n lang tyd gehad het.


COMMENTS

1104
No current posts. Be the first to post a comment